News From Varanasi

posted in: Global Projects, India | 0

Liewe Vriende,

Hoe heerlik om weer met julle te gesels! Dit gaan baie goed met ons en ons is opgewonde om dmv hierdie Nuusbrief die Here te loof vir sy sorg en voorsiening. ‘n Hoogtepunt in Junie was ‘n week lange “Kids’ Camp” wat ons kon bywoon. Ons het as personeel gedien, en dit was ‘n fees! Die sowat 100 kinders (7–12 jr) wat die kamp bygewoon het, se ouers is by dieselfde tipe werk as ons betrokke. Wat ‘n lekkerte dus vir die kinders om saam met al hierdie maats die Here te loof en hope pret te he!

Ons is so dankbaar om julle te kan meedeel dat ons 2 persone by die Sorgsentrum aangestel het. Hierdie is ‘n antwoord op meer as 2 jaar se gebede… Baie dankie aan almal wat saam met ons hiervoor ingetree het! D is ‘n dame wat ons hoofsaaklik vir die Naaldwerkeenheid aangestel het. Ons vertrou dat sy spoedig haar voete sal vind en dat die Here haar wonderlik sal gebruik; nie net met kreatiewe idees vir die Naaldwerkeenheid nie, maar ook in die lewe van elke jong meisie wat daar opleiding sal ontvang.

Die ander persoon is ons liewe C! Die meeste van julle sal hom onthou… Hy het jare lank vir ons gewerk, maar is toe met M (wat by die Naaldwerkeenheid gewerk het) getroud en het met die jeug van ‘n kerk in die area waar hulle gewoon het, begin werk. Na die tragiese dood van M en hul pasgebore babaseuntjie het C as jeugwerker by die kerk bedank. Dit was vir hom ‘n geweldige moeilike tyd, maar hy is stadig maar seker besig om weer die stukke van sy lewe op te tel… Ons is opgewonde om hom weer by ons te he! Bid asb dat hy verder die Here se genesing sal ervaar, ook terwyl hy die stukkende kinders wat Sorgsentrum toe kom, bedien.

J het ‘n babaseuntjie ryker geword. Hy is met ‘n klompvoetjie gebore en ontvang tans behandeling daarvoor. S is ver swanger. Ons het geen idee wat regtig in haar lewe aangaan nie. Sy kom gereeld Sorgsentrum toe, maar sodra iemand vrae wil vra of ‘n gesprek oor haar situasie en/of toekoms wil voer, onttrek sy heeltemal en bly weg. Ons bid en vertrou dus dat die Here self met haar praat elke keer as sy opdaag en die Boodskap hoor… Ons weet sy beskou die Sorgsentrum as ‘n veilige plek en verder vra ons God vir ‘n deurbraak in haar lewe!

“The Turning Point” brei uit! Ons het ‘n klein perseel begin huur wat sal dien as ‘n afgeepunt vir kliente wat te ver vanaf ons hoofperseel woon. Dit is aan die teenoorgestelde deel van die stad gelee, en is ook naby al die 5 ster hotelle. Ons vertrou dat heelwat toeriste dus van ons dienste gebruik sal maak, aangesien hotelle nogal ‘n aardige bedrag vir die was van jou wasgoed vra! Bid asb saam met ons vir die regte persoon om daardie perseel te bestuur. Ons hoop om dit so spoedig moontlik te open.

R het uiteindelik besef hy het ‘n ruskans nodig! Ons is so dankbaar, hy het gedurende April 2014 laas verlof geneem. Ons sien uit daarna om as gesin vir ‘n paar dae in Thailand te gaan rus!

Weet asb dat ons julle baie waardeer. Baie dankie vir elke gebed en elke finansiele bydrae. Mag die Here julle ryklik seen!

Met liefde,

Leave a Reply